...

Huldeblyk aan 'n Kosbare Tuiste

Aangebied deur Johan Mostert

Vanaand is ons almal hier byeen met een gedeelde gevoel in ons harte — ons is ongelooflik trots om deel te wees van een van Pretoria se uitnemendste aftree-oorde. ’n Plek wat, selfs voordat besoekers behoorlik gegroet het, hulle al laat uitroep: “Maggies, maar julle bly in ’n pragtige plek!”

DIE VISIE VAN ‘N TUISTE

Ons begin by die grondslag. Dié plek is nie sommer net nog ’n aftree-oord nie. Danksy die visie van die ontwikkelaar, Werner Pauw, het Faerie Glen Renaissance nie ’n “kierriekoshuis” geword nie — maar eerder ’n leefwêreld met karakter en grasie. Die argitektoniese styl en oop ruimtes skep ’n atmosfeer wat die oord vir ons ’n ware tuiste maak.

BEWESE REKORD VAN BESTUUR

Deur die jare was daar besondere leiers. Van Bill Heunis in 2001 tot vandag se leiding — die fakkel is aanhou aan mekaar oorgedra met trots en plig. André Fourie, Louis van Rooyen, Chris Garbers, At Louw, Mauritz de Vries, Jeannette Nel… elkeen het hul merk gelaat. Ek het ook die voorreg gehad om twee volle termyne as voorsitter te dien. En dan is daar ook al daardie ondervoorsitters en sekretarisse — mense soos Annatjie Haasbroek, wat sorg dat geen woord ooit verlore gaan nie.

Een voorsitter wat besondere vermelding verdien, is Jeannette Nel, wat vir veertien jaar in die Raad van Trustees gedien het. Sy was onder meer sekretaris, onder-voorsitter, en vir etlike jare, voorsitter. Dan was sy ook nog redakteur van Bonusjare en hou steeds rekord van die geskiedenis van die oord. Ons is opreg dankbaar vir haar voortreflike nalatenskap.

Ons eer ook ons lojale administratiewe span — mense soos Marinda, Dirk, Thomas, Johannes en Matthews — almal wie se toewyding oor jare strek. Ons biblioteek dra met trots die naam van een van ons stigtersfigure: Francois van Tonder. Saam met hom het Jeannette Nel ook in die juk getrek om die administrasie van die grond af te kry. En dan, die snoekerkamer. Die tafel was ‘n geskenk van ‘n inwoner. Mauritz de Vries het hom van die begin af beywer vir ‘n snoekerklub, wat steeds bestaan.

Geldsake in Betroubare Hande

Finansiële bestuur was nog altyd ’n pilaar van sekuriteit vir ons inwoners. Van die eerste dag af het ons die regte agente gekies — en nou, onder die wakende oog van Frikman Nel en Trustee Aletta Geldenhuys, hou ons steeds ’n onberispelike ouditrekord.

‘N KULTUUR VAN SELFDOEN EN SAAMSTAAN

FGR se gees is uniek. Dis ’n balans tussen onafhanklikheid en gemeenskap. Mense reis, leef, skenk hul tyd — hier word nie gewag dat dinge vir jou gedoen word nie, jy doen. Margie du Plessis, Connie Mulder… kyk net na daardie pragtige muurbehangsel in die saal — julle het vir ons ’n kunsskat nagelaat.

Die tuine spreek van daardie selfde gees. Marietjie van Driel en Ina Burger het kleur en lewe ingebring. Wynand Burger het naamplaatjies aan die inheemse bome aangebring.

SOSIAAL EN MAATSKAPLIK – DIE KLOP VAN DIE OORD SE HART

Van funksies tot feesvieringe, ons het altyd maniere gevind om saam te kom. Cahrima van Rooyen het vars energie ingebring, en Erna van Wyk wys daagliks dat die maatskaplike kant nooit net ’n terloopse taak is nie.

SEKURITEIT – WAAKSAAMHEID ONS SKILD

Ons is bevoorreg om te leef in ‘n veilige omgewing — iets wat ons nie as vanselfsprekend aanvaar nie. Met Pieter van Driel aan die stuur, word moderne tegnologie ingespan om hierdie Oord so veilig moontlik te maak. Baie dankie!

OUPA JOHAN – DIE HARTKLOP VAN INSTANDHOUDING Johan le Grange — ’n gesig van vertroue op daardie gholfkarretjie. Hy behartig al jare lank hierdie portefeulje. Sy handewerk is oral sigbaar: van die voetslaanpad tot die netjiese versorging van die oord wat gaste telkens opmerk.

DIE HOFSAAK – ‘N SAAK VAN BEGINSELS

In die beginjare was dit egter nie so maklik om harmonie te bewerkstellig nie. ‘n Paar inwoners het besluit dat hulle nie wil hê dat FGR onderworpe moes wees aan die Wet op Ouer Persone nie.

Die geskil het uitgeloop op ‘n onverkwiklike tweespalt in die Oord en die Regspersoon is voor die hof gedaag. Uiteindelik het die hele dispuut by die Appèlhof in Bloemfontein gedraai waar die uitspraak ten gunste van die Oord was.

COVID – ‘N TYD VAN BEPROEWING, ‘N TYD VAN EENHEID

Toe die pandemie ons wêreld op sy kop keer, het FGR as voorbeeld vir ander oorde uitgestyg. ’n Krisiskomitee is oornag op die been gebring en onder leiding van Jeannette Nel is daardie storm meesterlik gestuur. Ons kyk met dankbaarheid terug.

25 JAAR VAN GROEI EN GENADE

En nou staan ons hier — 25 jaar later — met dankbaarheid in ons harte. Ons beste wense vergesel die huidige trustees, onder die leiding van Hans van der Merwe en Cahrima van Rooyen, wat hierdie nalatenskap moet voortdra.

Ten slotte: Wat maak ons só trots om hier te wees? ’n Pragtige omgewing; ‘n Gemeenskap van warm mense; Veiligheid wat gemoedsrus skep; en bowenal, Bestuur waarop ons kan staatmaak.

Faerie Glen Renaissance: 25 Jaar Oud

Opgesom deur Jeannette Nel

Wat ‘n voorreg om hierdie besondere gebeurtenis saam met 164 mede-inwoners te kon beleef. Met die instap in die saal was dit duidelik dat hier fees gevier word. Alles in wit, blou en silwer – gepas vir die “silwer bruilof” van die Oord! Die keurige tafelrangskikkings is gedoen met vetplantjies uit die Oord se tuine, oorspronklik en pragtig! Die kerslig skep ‘n intieme atmosfeer, die sagte gedreun van spontane gesels en lag vertel van vriendskap en meelewing!

Hans  en Cahrima het die verwelkoming gedoen waarna Johan Mostert ‘n kort opsomming van die Oord se geskiedenis gegee het. Hy het ook ‘n heildronk ingestel op die Oord en die gaste het met juiging meegedoen. Die tafelgebed deur Chris Schutte, het ons dankbaarheid aan ons Skepper verwoord.

Die kerrievis voorgereg wat deur Square Time se kelners aan tafel bedien is, was ‘n bederf wat die aand verder spesiaal gemaak het.

Die skrywer en digter, Albert Kloppers, het hierna een van sy sketse voorgelees. Die gaste het moeilik lag onderdruk. Skuddende lywe en lagtrane wat afgevee is gesien, terwyl hulle luister na die avontuur wat hy en sy gesin met ‘Gerberus, die koos en die hoekie in die tuin’ beleef het.

Die hoofgereg, ‘n buffet met disse te kies en te keur is deur die flinke personeel vir ons ingeskep. Drie soorte vleis, gegeurde rys en ‘n verskeidenheid groente. ‘n Moeilike keuse, want die kapasiteit op ons hogere ouderdom is nie meer gerat vir so ‘n feesmaal nie. En toe – toe volg die nagereg. Lekker kon nie lekkerder nie!

‘n Groot dankie aan ons Trustee wat hierdie geleentheid moontlik gemaak het, ook aan Cahrima en haar gewillige, talentvolle gasvrouens wat so hard gewerk het om alles so mooi te maak. Baie dankie aan al die gaste wat die funksie bygewoon het, dit is julle teenwoordigheid wat hierdie aand so ‘n vrolike en gesellige geleentheid gemaak het.

25 jr embleem
Ingang sjerrietafel
Tafelplasings
Tafel 1.1
Tafel 2
Inskep 3
Tafel 14
Tafel 11
Albert Kloppers
Hans
Cahrima & Erna
Gasvroue
Tafel 3
Johan Mostert
tafel 15
Tafelversierings
Heildronk 1
Heildronk 2
Spyskaart
Chris Schutte
Inskep 2
Sq T Kelners
Tafel 6
Tafel 16
Tafel -x2
Tafel x E
Tafel 17
Tafel 12
Gallery Title Here
Tafel 1
Scroll to Top
Seraphinite AcceleratorOptimized by Seraphinite Accelerator
Turns on site high speed to be attractive for people and search engines.