Oorsig
Faerie Glen Renaissance is op 18 Augustus 2000 onder die Deeltitelwetgewing as ‘n deeltitelskema (SS416/2000) geregistreer, in die gesogte woonbuurt Faerie Glen, in die ooste van Pretoria.
Die oord beskik oor 150 ruim, losstaande twee- en drieslaapkamer wooneenhede. Die oorspronklike eienaars het die geleentheid gehad om hul bouplanne aan te pas, wat gelei het tot ‘n verskeidenheid unieke huise binne die gemeenskap. Elke eiendom spog met sy eie kenmerkende karakter, wat gekomplimeteer word deur ‘n privaat tuin.
Faerie Glen Renaissance is gerieflik geleë met vinnige en maklike toegang tot hoofweë, insluitend die N4, N1, en die R21 wat na die OR Tambo Internasionale Lughawe lei.
Inwoners trek ook voordeel uit die nabyheid van verskeie winkelsentrums soos Olympus Plaza, Woodlands Boulevard, Atterbury Value Mart, Lynton Corner en The Grove.
Die oord is ook naby toonaangewende gesondheidsorgfasiliteite soos Faerie Glen-Hospitaal, Pretoria-Oos-Hospitaal, Kloof-Hospitaal en Wilgers-Hospitaal.
Bestuur van die Oord
Die bestuur van die oord word beheer deur die bestuurs- en gedragsreëls wat opgestel is ingevolge genoemde wetgewing. Die optrede van alle inwoners is dus ondergeskik aan hierdie wetgewing. Genoemde reëls kan van die oord se administratiewe beampte verkry word.
Die hoogste gesagsliggaam in die oord is die regspersoon (“body corporate”). Die funksie en bevoegdhede van die regspersoon setel in die Raad van Trustees wat jaarliks tydens die algemene jaarvergadering deur die inwoners verkies word. Die Raad van Trustees bestaan uit ‘n voorsitter, ondervoorsitter, sekretaris en ‘n aantal addisionele trustees wat verantwoordelik is vir onderskeie portefeuljes soos finansies, sekuriteit, instandhouding, tuine, maatskaplik, sosiaal en bestuursake. ‘n Trusteelid mag, met toestemming van die raad, een of meer inwoners betrek om behulpsaam te wees met die take in die onderskeie portefeuljes.
Die huidige Raad van Trustees is soos volg saamgestel:
Voorsitter – Hans van der Merwe
Ondervoorsitster -Cahrima van Rooyen
Sekretaresse – Annatjie Haasbroek
Finansies – Aletta Geldenhuys
Maatskaplik – Erna van Wyk
Instandhouding – Johan le Grange
Sekuriteit – Pieter van Driel
Bestuursaangeleenthede – Werner Pauw
Die huidige Bestuursagent is Frikman Nel. Die bestuursagent is nie ‘n lid van die Raad van Trustees nie en word (jaarliks) aangestel deur die Regspersoon.
Algemene Bestuursake
Inwoners is word aangemoedig aktief by die bestuur van die oord betrokke te wees en om te enige tyd relevante probleme skriftelik onder die aandag van die Raad van Trustees te bring.
Finansies
Die oord se begroting word jaarliks voorgelê by ‘n spesiale algemene vergadering. Dit is noodsaaklik dat eienaars of hul gevolmagtigdes die vergadering bywoon. Die jaarlikse heffing word tydens hierdie vergadering goedgekeur asook ander aspekte soos van toepassing.
Maandelikse Heffing
Die maandelikse heffing wat op alle eiendomme van toepassing is, word onder meer aangewend vir:
• Riooldienste
• Vullisverwydering
• Instandhouding
• Tuindienste
• Sekuriteit
• Salarisse en lone van die personeel
• Versekering van geboue
• Algemene administrasie.
Water en elektrisiteit word vir elke eenheid apart gelees en gefaktureer.
Hierdie struktuur verseker deursigtigheid en aanspreeklikheid terwyl dit doeltreffende bestuur en operasionele doeltreffendheid binne die oord bevorder.